Kliek hier vir die volledige track listing              

 

My seun Mieliepap is Johrné se eerste solo-album.  Dis 'n versameling oorvertaalde songs uit die vyftigs en sestigs wat nuwe baadjies gekry het, en Johrné beskryf dit as 'n retro-sokkie-paartie met baie skop, 'n bietjie banjo en die occasional gekerm van 'n harmonica.  Die album is verwerk en vervaardig deur die befaamde Andrew Roos en die kredietlys spog met uithaler-musikante soos Johann Rautenbach, Edwin Randell, Leon van Rensburg, Leon Ecroignard en natuurlik, oom Vincent van Rooyen.

 

Vir die jongeres gaan die songs 'n hele nuwe journey of discovery wees.  Maar vir die wat kan onthou, sal titels soos My pellie Herry, Ou tannie Kekkelbek, Lang Hare, My oupa is 'n Melkman, Annelie Volstruisnek, Moet nie dat sy dit hoor nie, en Sewentien, definitief klokke lui.

 

"Die feit dat elke song 'n storie vertel, maak dit ontsaglik baie fun.  Dis snaaks.  Maar ek is veral trots op die feit dat dit musikaal vir niks en niemand terugstaan nie!  Dis 'n album met baie integriteit wat met 'n baie wye mark gaan praat!"

 

Die verhaal agter hierdie CD is eintlik nogal ongelooflik.  Hendrik Swanepoel besit die oorspronklike plate waarop hierdie songs verskyn het, al vir veertig jaar.  Hendrik en Johrné is reeds 'n geruime tyd vriende en by die aanhoor van hierdie plate, is die konsep vir hierdie CD gebore.  Hendrik is al vir baie jare 'n groot ondersteuner van Afrikaanse musiek en het al tientalle van ons plaaslike kunstenaars gehelp met 'n verskeidenheid van projekte.  Hierdie keer is hy nie 'n stille ondersteuner nie, maar 'n volledige aandeelhouer in die projek!

 

Johrné het die lirieke soos dit op die oorspronklike plate verskyn het, net so oorgeneem en slegs op twee plekke veranderings gemaak.  Die CD is vir hom 'n groot sprong omrede hy nog steeds deel is van ddisselblom wat gekenmerk word deur 'n ernstiger klank.

 

"Na 5 jaar saam met ddisselblom het ek al meer gehoor ek is oulik en snaaks as wat ek gekomplimenteer is oor my stem.  So hier is nou iets ouliks en snaaks...  maar dis ook goeie musiek, goeie verwerkings en dit word gespeel deur goeie musikante!"

 

Die CD behoort binne enkele weke op die rakke te wees, so hou die winkels dop!