Ter viering van volledigheid, moet ons hierdie verhaal so 'n bietjie vroëer begin... Johrné het aanvanklik aandag getrek as mede-stuurman van Geblikte Afrikaans. Saam met Jaco Spies het hulle allerhande eg afrikaanse dinge soos digbundeltjies, moer-koffie, beskuit en t-hemde met oorspronklike slogans op, in handgemaakte blikke verpak en verkwansel by al wat 'n fees, vlooimark of vendusie was. Die besigheid het 'n helse sukses geword en is onder meer bekroon met 'n Pendoring toekenning vir die mees briljante advertensie-veldtog. Beide die manne het ook lankal gewoeker met hulle musikale talentjies en saam met Johrné se skoonsus, Lienka, 'n paar oorspronklike songs die lig laat sien. Die logiese volgende stap was om 'n band te begin en Geblikte Afrikaans was net die regte platform om die gedoente van die grond af te kry.
Kort voor lank was ddisselblom so 'n moerse sukses dat daar nie meer tyd was om beskuit in blikke te pak nie. Geblikte Afrikaans is verkoop en daar is voluit getoer en getokkel. Intussen het Johrné ook TV-aanbieder geword op Kyknet en MK-89. Chicks dig hom glo kwaai. Nadat Jaco en Lienka gaan staan en trou het, het 'n paar wonderlike geleenthede in die egpaar se skoot geval. Jaco is deesdae te sien in die sepie, Villa Rosa, terwyl Lienka haar solo-album ook onlangs vrygestel het.
Johrné het intussen inspirasie gevind in 'n pak ou plate wat hy by 'n vriend gekry het, en dadelik begin werk aan sy nuutste scheme!
Die resultaat is die nuwe CD, wat 'n rukkie gelede vrygestel is. Saam met sy splinternuwe 4-piece band, beplan hulle om die land vol toer met wat reeds bestempel word as die beste nuwe party act op die aardbol! Hou dus gerus hierdie website dop - ons sal jou op hoogte hou!